Hoe kan jy so goed moontlik voorberei vir die komende wiskunde eksamens?                                                    

Hier volg ‘n paar wenke!

1. BEPLAN die volgende paar weke op ‘n rooster!  Deel elke dag op in uur sessies.  Jy sal verbaas wees om te sien hoeveel ure jy regtig het. 

2. Skep ‘n lekker RUIMTE vir leer waar dit stil is.  Bêre jou selfoon vêr weg.

3. OEFEN.  Oefen.  Oefen.  Wiskunde is soos sport.  As jy ‘n wiskunde eksamen skryf, moet jy gemaklik wees met elke soort som.  En jy moet wiskunde FIKS wees.  Daar is net een manier:  OEFEN.

4. HOE oefen ‘n mens wiskunde?  Jy maak ‘n lys van al die soorte somme wat jy moet kan doen.  Gaan doen dan eers net 10 van dieselfde soort som.  Oefen die metode in.  Word gemaklik met die reël of wet wat jy moet toepas in daardie spesifieke soort som.  Dan beweeg jy aan na die volgende soort som.

5. Werk voluit. ONTSPAN voluit.   Beloon jouself met ‘n af uur so nou en dan.   En doen dan iets lekkers. Vergeet dan heeltemaal van wiskunde of alles wat nog gedoen moet word.

6. Tyd speel ‘n groot rol in ‘n eksamen.  Sodra jy gemaklik is met die afsonderlike soort somme, doen ‘n gemengde oefening, teen tyd.  In enige wiskunde toets of eksamen, gr 8-12 is dit altyd baie goed om te oefen teen 1 minuut per punt.